“Rian Swanepoel (27) se kragtige album, ‘Verf die classics rooi’ (Showtime Records) kom uit die suksesateljee van ProTrax
met verwerkings en produksie deur Christie, Juliet en Eben Schutte, Franchois Lessing en Rian self. Met die strykers van Eclips,
die kitare van Jan “Floors” Oosthuizen en die tromme van Francois Lessing word die luisteraar met die intrapslag met ‘n
klankontploffing en plofvertolking van die titelsnit Rooi (Marco Borsato se komposisie, met Hilandi du Toit se kragwoorde)
oorrompel. Teen diè agtergrond van simfoniese strykers versus rockkitare en perkussie, word die luisteraar op ‘n opwindende en
uitdagende klassieke musikale reis geneem – met nog 13 grootste komposisies uit die koffers van die meesters. Omdat Rian kan
en mag sing – hy’t talle sangkompetisies gewen en sy staal saam met Rina Hugo en Jannie Moolman in die produksie, “Gè Hoor
my Lied gewys – is dit bloot van pas dat hy op diè debuutalbum ander geskoolde stemme benut. Duette is bloot in ‘n klas van hul
eie: Because we believe en Barcelona (met Kevin Leo), Nella fantasia en Everytime I look at you (met Werner Brooks), I believe in
you (met Veronique Lalouette), First of May (met Rina Hugo), en All I ask of you en The Prayer (met Sibongile Mngoma). ‘n
Kunstenaar se waarde lê dikwels in die aanvaarding en erkenning van sy kollegas. In diè geval die stempel van goedkeuring van
deurwinterde kunstenaars. Rian se solovertolkings van “La fiamma sacra”, “You raise me up”, “Together”, “Lieflike droom “ en
“Lied van die lewe”, maak die klassieke musiek en die tenoorstem woes cool!. Dit maak ligte klassieke musiek
trefferparademateriaal – soos dit met die jonger geslag oorsese tenore die geval is. Hopelik kry Rian in Suid-Afrika die erkenning
en ondersteuning wat hy verdien, want die Engelse weergawe van die album, ‘Paint the classics red’, het reeds internasionale
belangstelling gelok en ‘n wêreldwye verspreidingsooreenkoms word in Amerika onderhandel. Daar is ook belangstelling in
onder meer Suid-Korea, Denemarke, Europa, Czech Republiek en Rusland. |
Dis ‘n album wat deur orkestrale grootsheid, vokale integriteit (Rian doen self al die aanvullende stemme en koorwerk, wat soos reusekore klink!) en verruklike vertolktalent gekenmerk word. Sjoe, ek is skoon uitgepunt na diè verrykende musikale ervaring! Die classics kan rock en die dorp is rooi geverf!” |
“Rian Swanepoel het een van die beste stemme in die land en hy weet hoe om dit ten volle te benut. Hy sing elke liedjie voluit, terwyl hy maklik tussen verskillende musiekstyle beweeg. Bekende liedjies, soos ‘You raise me up’, The Prayer’ en ‘Barcelona’, het die nodige Rian-behandeling gekry. Daar is ook duette met Rina Hugo, Kevin Leo, Sibongile Mngoma en Werner Brooks”. |