Rian Swanepoel is in 1981 in Kemptonpark gebore en is dit ook waar sy
musiekloopbaan begin het. Hy het by Jeugland Hoërskool in 1999
gematrikuleer en het sedertdien verskeie Nasionale Sangkompetisies
gewen. Hy het aan verskeie korporatiewe optredes deelgeneem,
waaronder “Fantasy of Light” (1998) die eerste was. Hy was ook wenner
van die “Tehila” Nasionale Sangkompetisie. In 2002 was hy 'n Top 10 finalis
in Idols. Rian was betrokke met verskeie groot musiekproduksies en het saam met
die land se bekendste kunstenaars opgetree, nl: Jannie Moolman, Rina
Hugo, Sibongile Mngoma, Kevin Leo, Anneli van Rooyen, Loiso Bala,
Coenie de Villiers, Veronique Lalouette, Nedine Blom, Laurika Rauch en
talle ander. Hy was ook betrokke by die baie suksesvolle produksie, “Gè,
Hoor my Lied”, saam met Rina Hugo en Jannie Moolman, onder leiding van
regisseur, A.J. van der Merwe. Rian was ook vir 'n tydperk van 2½ jaar betrokke by die Transoranje Skool
vir Dowes en het verskeie landswye optredes saam met 'n gebaretaal-koor
aangebied. Die groep was in 2005 deur die Chase Foundation uitgenooi om
10 vertonings in Argentinië aan te bied en was dit 'n uiters geslaagde toer. In September 2007 het Rian en mede-kollegas, Sibongile Mngoma en
Werner Brooks 'n internasionale konserttoer saam met die Transoranje
Dowes na Suid-Korea onderneem wat ook baie suksesvol was. Rian se
eerste musiekvideo, “La fiamma sacra” is in Seoel, Suid-Korea verfilm. Rian se debuut-album, “Verf die classics rooi” is einde 2007 uitgereik en
bevat die album duette met Rina Hugo, Kevin Leo, Sibongile Mngoma,
Veronique Lalouette en Werner Brooks. |